Die Bidkompetisie
Elke nou en dan in die Karoo is daar 'n droogte, en waar daar 'n droogte is volg 'n biddag vir rëen kort op sy hakke. Nou ek onthou die spesifieke donderdag oggend, was nog in die laerskool en die hele skool is op nasionaal-christelike wyse in rye laat loop tot by die kerksaal. Nie in die kerk nie, want die bruinmense moes ook kom help om 'n vertoë te rig. By die saal aangekom is ons na die standaard dreigemente van die onderwysers sitgemaak.
Die verrigtinge het aanvang geneem met die herder van die Lutherse kerk wat ons so 'n paar liedere laat sing het. Ek onthou hy het so 'n snaakse kraag gedra. Toe kom onse dominee op wat in die droogte en die hitte so 'n pikswart toga gedra het. Die einste man sou ek jare later in Seepunt raakloop hand aan hand met 'n ander man, maar dit was nog jare voor seepunt en ander mans en ons sit by die biddag vir rëen en die dominee bring so ou boodskappie en toe sê hy maar die mense kan nou bid. Na so halwe minuut van gewyde stilte staan oom Pieter Muller op en met 'n stem wat dra oor die hele saal vra hy plegtig vir 'n wolk so groot soos 'n man se hand. Ek weet nou mos hoe hierdie geleenthede werk, elkeen sê maar eintlik dieselfde net op so bietjie ander manier en as jou boude nou al lekker lam gesit is dan sluit die dominee af.
Maar toe oom Pieter amen sê begin die aksie. Tannie Sue Duvenhage, een van die Konserwatiewe Party se steunpilare, staan op en trek weg. Terselfdetyd, soos dit maar gebeur as jy dinge met toe oë aanpak, het tannie Sandra Brits in 'n meer suid-oostelike rigting van waar ek sit ook met haar gebed begin. Dié twee tannies het al jare lank 'n probleem met mekaar, en ek verneem maar so by die ou mense dat dit het te doen gehad met die een of ander administratiewe kwessie rondom die poeding-tafel by die basaar lank voor my geboorte. Soos tannie Sue asem skep na haar intreesin merk sy die onraad, vat nie lank om die stem van haar teenstaander te herken nie, en gaan die tweede sin van haar gebed in met baie meer slaankrag. Die toename in volume dring deur tot by tannie Sandra en sy besluit om nie terug te staan nie.
Tannie Sandra se seningrige mannetjie wat net so buite die dorp boer pluk aan haar rokspunt om die affêre te beëindig, maar sy klap net sy hand weg soos jy 'n lastige brommer sou wegwaai en vat die volgende sin met nog meer oorgawe as die vorige een. Vir die volgende paar sinne kompeteer die twee bloot op die hardheid van hulle se stemme, maar beide besef dat die een nie die oorhand sou kry op hierdie wyse nie. Hulle sou mekaar inhoudelik ook moes aanvat.
Tannie Sandra laat die Israeliete droogvoets deur die Jordaan loop. Tannie Sue vat die Israeliete en laat hulle deur die Rooi See loop ook heel droog en alles onder die leiding van die goeie Moses. Tannie Sandra kap terug deur te herhinner dat Moses 'n Egiptenaar gedood het. Tannie Sue interpreteer die klem effens verkeerd en noem dat Simson dértig Filistyne doodgeslaan het. In goeie sportmangees wys tannie Sandra daarop dat Dawid tien duisende die stof laat byt het.
So gaan dit aan en nie een van die twee blyk om inhoudelik die oorhand te kry nie. Die mense sit naderhand met oop oë die situasie en gade slaan. Die dominee probeer na so halfuur van kompeterende gebed uit die boonste rakke met die hulp van die mikrofoon die susters maan om tog die gebed af te sluit, maar moenie dink die twee wat al skuim om die mondhoeke het gaan nou die aftog blaas nie - hulle was dan nog nie eers in sig van die Nuwe Testament nie.
Was dit nie daarvoor dat die rëen so hard op die sinkdak begin val het dat ons later niks kom hoor nie, was ons vandag nog seker daar.
Terug na bo
Hantam Mafia
Hier in die studentehuis waar ek bly is daar op 'n stadium vreeslike komplotte gesmee om van die dames wat ons universiteit vanaf ander lande te besoek te ontmoet, en sommer ook hulle meer liberale gedagtes tot voordeel van die huis aan te wend. Ek vermoed dat die beweegredes agter die aanskaf van ingevoerde dames juis saamgevat kan word in die voordeel dat die beloftes wat na 11 in die aand gemaak is jou nie sal inhaal nie. In teorie. Maar die praktyk het mos maar so 'n manier om 'n mens in die gat te byt.
My huismaat Johann, 'n plaasseun uit die Hantam, ontmoet toe mos hierdie russiese uitruilstudent by die een of ander sosiale aangeleentheid. Nou Johann kom uit die Hantam, daar waar hulle Engels slegs vir selfverdediging gebruik, en aan die ander hand is die dame se engelse vaardighede redelik gekortwiek deur die een of ander ystergordyn tydens haar skooljare. Ons is nog besig om te spekuleer onder mekaar hoe hierdie verhouding nou gaan werk as die twee dan nou so sukkel om te gesels. Tog moes hulle die een of ander vorm van kommunikasie ontdek het want ons het Johan al hoe minder gesien tot een dag wat hy mos doodluiters kom aankondig dat die Rus swanger is. Nou ek het aanvanklik geskrik en gedog by myself dat hier is mos groot nonsens want ons praat van onderhoud wat betaal moet word en Johann studeer op geleende geld. Hy deel egter nie my vrese nie, hy is heilig oortuig dat sy probleme saam met die dame se visum gaan verstryk.
Na so 'n paar weke is die semester klaar en ons laai Johann se probleme op die vliegtuig na die land van Lenin. Dinge begin sy normale gang te gaan en selfs Johann erken een aand na 'n paar glase rooiwyn: "Dit kon lelik uitgedraai het". Uit dankbaarheid maak ons maar weer die glase vol, en terwyl ek die eerste teug vat word die saligheid onderbreek deur die telefoon se tingel. Aan die ander kant van die lyn is daar toe 'n swaar Russiese aksent, van daardie soort wat die skelms in die flieks altyd het. Dié is toe haar pa.
Ek gee die telefoon vir Johann en almal staan nader. Die man aan die ander kan doen meeste van die praatwerk, en ons kan sien dat Johann al witter om die kiewe raak. Die man beduie dat alhoewel hy as gevolg van 'n "effense ongemaklikheid" met Interpol nie self na die land van die springbok toe sal kan reis nie, moet Johann asseblief nie vir een oomblik dink dat sy "netwerk van vriende" ook meer in die volksmond bekend as die Mafia, nie Johann se gal vir hom deeglik kan bewerk nie, al moet hulle hom in die Hantam loop kry.
Om 'n lang storie kort te maak, het die Mafia vader onse Hantamseun van der Merwe se opsies redelik vernou. Dit het basies daarop neergekom dat van der Merwe of met die dogter gan trou, of dan nou met die gevolge gaan moet saamleef, alhoewel lééf dalk nie die beste woord in hierdie bepaalde konteks is nie. Die aanstaande skoonpa het dit ook darem duidelik gemaak dat hy 'n geleentheid of twee vir van der Merwe sal skep in sy 'organisasie' as 'n tipe invorderaar van skuld of iets.
Ek het vroeg die volgende more met 'n mond wat nog efens droog was van die rooiwyn vir Johann lughawe toe gevat, en nooit weer daarna van hom gehoor nie. As jy ooit in die buitewyke van Siberie vasloop in 'n man met 'n groot russiese mus en velskoene aan, vra hom asseblief of hy na die reünie toe kom.
Terug na bo
Die Bergie
Gisteraand klop daar weer 'n bergie aan ons voordeur. Toe ek hom sien verwag ek die gewone stories: Soek geld vir melk vir 'n kind ens. ens. Sommige ouens is meer kreatief as ander maar dit kom gewoonlik neer op: geld en nie kos asselief (my lanie).
Die bergie by deur is egter baie meer saaklik as wat ek gewoond is. Hy vra eers omverskoning dat hy tans te besig is om allerlei geselsies aan te knoop, hy het net gou kom hoor of ek more middag om twee uur by die huis gaan wees, want dan bring hy my geld. Hy wens my 'n goeie nagrus toe en verdwyn in die donker, voor ek nog kans gehad het om my skedule te raadpleeg oor more middag twee uur.
Nou wonder ek. Dalk het die paradys gekom en bergies bedel nie meer nie maar loop soos Sinterklaas en Swart Piet (dalk meer Swart Piet as Sinterklaas) rond en deel geld uit aan behoeftige siele soos ek wat nog nie die nuutste iPod het nie.
Bergies is egter nie bekend as mense wat hulle rol in die samelewing vervul nie, en ek begin toe al hoe meer te vermoed dat die vent my iets slegs wil aandoen. Eensklaps sien ek die lig: Die man wil mos nou hier vir my 'n helse klomp geld bring sodat ek ook moeiliker as 'n kameel deur die oog van 'n naald in die hemel kan kom.
Ek ek dink, as hierdie bergie met 'n kis vol geld vanmiddag twee uur by my deur opdaag klap ek daardie deur in sy gesig toe …
Terug na bo





